Vroeër/Eers
|
Toe/Jou ontmoeting met Christus
|
Nou/Daarna
|
Vraag
|
-sonde
-ongelukkig
-vrese (dood)
-onvrede
-alleen
–depressief
|
-die keerpunt
-geen twyfel hieroor
LW: Moenie verduidelik HOE dit gebeur het en wat jy gedoen het nie.
|
-oorwinning (sonde)
-gelukkig
-kry doel
-dinge het verander
-vrede
|
-100 % seker?
-Iets wat moet verander?
-gereed vir ewigheid?
-hou iets jou terug?
|
Die waarde van jou getuienis
Die persoon kan ‘n verkeerde begrip hê van wat dit beteken om ‘n Christen te wees. Hy kan bv. dink dat Christenwees behels die nakom van ‘n klomp moets en moenies, ‘n bepaalde filosofie, ‘n manier van dink of deel wees van ‘n sosiale klub. Deur jou getuienis maak jy dit vir hom duidelik dat Christenwees ‘n persoonlike verhouding met die lewende Christus behels. As Christus in jou lewe inkom dan gebeur iets, ervaar jy iets en verander dinge. Ware godsdiens begin met ‘n ontmoeting met die lewende Christus, en is meer as blote kennis van die Bybel.
Deur jou getuienis kan hy hom met jou identifiseer. Hy sien homself en sy eie probleme en stryd in jou verhaal raak. So bly jy nie op ‘n afstand nie, maar bou jy ‘n brug na hom toe. So kan hy hom byvoorbeeld identifiseer met jou vroeëre humeur, opstandigheid, hoogmoed, ontevredenheid, vrese, twyfel, vormgodsdiens, ens.
Jy skep die regte atmosfeer en bou ‘n brug om te kan orgaan na die geestelike en die persoonlike behoefte van sy lewe.
Jy dra belangrike waarhede oor wat al klaar ‘n boodskap is en tot eer van God is. Al sou jy nie verder kon gesels nie, hoor hy in elk geval die belangrike waarhede van die Evangelie.
Deur ‘n getuienis kan jy indirek vir iemand “preek.” So kan jy byvoorbeeld vir hom sê; “Uiterlike godsdiens is nie genoeg nie.” “Jesus verander wel ‘n mens se lewe;” “Sonder Christus is jy op pad hel toe;” “Jy moet sekerheid hê hier op aarde.” So kan jy die waarhede van 1 Joh. 5:13 en Matt 7:21 oordra.
7.3 ‘N AANTAL MOENIES
7.3.1 Moenie “vreemde” woorde of kerklike uitdrukkings gebruik in jou persoonlike getuienis nie. Bv. gewas deur die bloed, gebind deur die bose, die vlees, die wêreld, prys die Heer, Evangelie en ander kerktaal.
7.3.2 Moenie vergroot nie (só baie gesondig, drank en pille)
7.3.3 Moenie sensasioneel wees nie (eskepades met vrouens, polisie)
7.3.4 Moenie ‘n detail-verslag gee en jou verhaal onnodig lank uitrek nie.
7.3.5 Moenie ‘n lys van sondes wat jy opgegee het voorhou nie.
7.3.6 Moenie strydvrae aanraak soos doop, uitverkiesing, spreek in tale, drank, rook, dans, ens.
7.3.7 Moenie mense of die kerk kritiseer, afkraak of veroordeel nie.
7.4 ‘N AANTAL MOETS
7.4.1 Wees kort, spesifiek, entoesiasties, lewendig, positief, blymoedig, eg, opreg en vriendelik.
7.4.2 Hou die Evangelie en die Skrifwaarhede op die voorgrond en jouself op die agtergrond. Moenie mense probeer beïndruk met hoe goed jy is nie.
7.4.3 Wys op die wins wat Christus gebring het:
-Nuwe, ware vriende.
-Verhoudinge wat vernuwe is en reggekom het – in die huis, by die werk.
-Stry nie meer nie, meer geduldig, oorwinning oor my humeur.
-Liefde wat die selfsug verdryf het.
-Kry reg om te vergewe.
-Geen vrese meer nie – ware vrede, gemoedsrus en sekerheid van vergifnis en kindskap van God.
-Nuwe waardes – wat my waarlik gelukkig maak.
7.4.4 Pas jou getuienis aan (‘n eerlike sondaar of ‘n vroom Fariseër) of gebruik ‘n ander se getuienis.
DIE HANTERING VAN DIREKTE VRAE
‘n Ander manier om by iemand se geestelike lewe en behoeftes uit te kom, is om die volgende vraag te vra: “Is jy seker dat as jy vandag sou sterwe, jy hemel toe sal gaan?”
Uit die antwoord op hierdie vraag kan jy ‘n diagnose van sy verhouding met Christus maak.
Daar is 3 verskillende moontlikhede wat jy kan aflei uit iemand se antwoord op bogenoemde vraag:
JY KAN DUIDELIK AFLEI DAT DIE PERSOON WERKLIK ‘N CHRISTEN IS:
Hy sal bevestigend antwoord en sê dat hy seker is.
Sy sekerheid sal duidelik blyk uit sy meelewing en geestelike betrokkenheid. Die vrugte wat by die bekering pas sal sigbaar wees en hy sal jou daarvan kan vertel (Bv. sy betrokkenheid by die kerk, sy werk vir Christus, sy dankoffer, sy binnekamer).
Jy sou sy volkome sekerheid ook kan agterkom uit die spoedige, ontspanne, duidelike en besliste wyse waarmee hy jou vraag beantwoord.
Sy antwoord op die waarom-vraag sal ook bevestig dat sy sekerheid gebaseer word op Christus se vergifnis en nuutmaking van sy lewe. Hy sal ook maklik kan vertel van waar en wanneer hy vir die eerste maal of by hernuwing tot oorgawe gekom het.
In hierdie geval moet jy dan verder met hom praat oor geestelike groei en verduidelik dat as die Heilige Gees sy lewe beheer en vervul, dan sal God sy doel in sy lewe bereik en sal hy die vreugde van ‘n dinamiese geestelike lewe ken.
Anders kan jy vir hom vra of daar iets is wat hy sou wou verander voordat hy hemel toe sou gaan en of daar iets is waaroor hy wonder of God hom regtig vergewe het.
JY BETWYFEL OF DIE PERSOON WERKLIK ‘N CHRISTEN IS
Die persoon sal op die sekerheidsvraag bevestigend antwoord, maar jy kom agter daar is onsekerheid.
As die persoon erken dat hy twyfel en onseker is, dan moet jy hom help om liefs dubbelseker te maak deur die boekie “Is jy seker?” met hom deur te gaan.
As dit vir jou lyk of hy bloot wil voorgee dat sy verhouding met God reg is, terwyl jy dit betwyfel, kan jy seker maak deur uit te vra oor sy ontmoeting met Christus (Op 3:20). Behandel die “Is jy seker?” en toets hom of hy bereid is om opnuut ‘n keuse vir Christus te maak.
Andersins moet jy hom die tweede vraag vra: “Gestel jy staan voor die hemelpoort, waarom dink jy moet God jou inlaat?” Die antwoord op hierdie vraag sal jou help agterkom of Christus werklik die fondament van sy geestelike lewe is en of hy op sy goeie werke en godsdienstigheid steun.
Verduidelik vir hom hoe Nikodemus as godsdienstige mens wat die Skrifte geken en geleer het en wat voorbeeldig geleef het, by Jesus ontdek het dat hy nog steeds nie in die hemel sal ingaan, tensy die Gees van God hom verander het nie (Joh. 3:1-10). Matt 7:21-23 waarsku dat daar eendag in die oordeelsdag “baie” mense gaan wees wat onder ’n misverstand geleef het en gedink het alles is reg terwyl dit nie so was nie.
DIE PERSOON ERKEN DAT HY NOG NIE ‘N KIND VAN DIE HERE IS NIE
Indien hy openlik erken dat hy nog onseker is, kan jy hom vra na aanleiding van bogenoemde vraag of hy so sou wou voortgaan en of hy bereid is om sy lewe te verander.
As hy nie gewillig is om te verander nie en verkies om onverskillig te bly, kan jy niks anders doen as om hom te waarsku dat die Bybel sê dat die einde van die breë pad die hel is. Moontlik kan jy jou persoonlike getuienis van God se liefde vir sondaars gee.
As hy ontevrede is met sy geestelike lewe en graag wil verander, kan jy hom help aan die hand van die “Is jy seker?” boekie.
DIE GEBRUIK VAN DIE GESPREKSBOEKIES
Hierdie gespreksboekies word as ‘n gespreksriglyn gebruik deur dit bladsy vir bladsy met iemand deur te lees. Al die belangrike waarhede wat oorgedra moet word, is op skrif gestel sodat jy dit op ‘n sistematiese en ‘n maklike wyse aan die soekende persoon kan deurgee.
Die boekie (“Is jy seker?”) bevat die waarhede om iemand wat twyfel oor sy saligheid te help om die Evangelie en die weg van saligheid te verstaan, sodat hy tot oorgawe en uiteindelike sekerheid van sy redding kan kom.
As so ‘n boekie saam met iemand deurgelees is, word dit as opvolgmateriaal by hom gelaat, sodat hy dit weer kan deurgaan.
Hierdie boekies moet biddend en in afhanklikheid van die Heilige Gees behandel word.
10. HANTERING VAN DIE OORGAWEGEBED
KOSTEBEREKENING
Nadat die evangelie verduidelik is aan die hand van die boekie “Is jy seker?”en die persoon bereid is om tot oorgawe te kom, moet jy eers seker maak van die volgende, voordat julle saam bid:
10.1.1 Het hy die koste bereken? Is hy byvoorbeeld bereid om te breek met die sonde, dinge wat God vra reg te maak, Christus eerste stel in alles, dalk onpopulêr te word, vriende prys te gee, ens.?
Hy moet bereid wees om alles in sy lewe oor te gee en vir Christus te lewe. Hy moet gewillig wees om sy prioriteite en sy program te verander na God se wil, in te skakel by die kerk se aktiwiteite, getrou sy Bybel te lees, te bid, te getuig en te werk vir Christus.
Hy moet eerlik wees. Maak seker dat hy dit van harte bedoel. Sien hy kans om Jesus eerste te stel in alles en Hom te gehoorsaam al kos dit wat?
Besef hy dat God tans buite sy lewe staan, sy sondes nog nie vergewe is nie, hy op pad hel toe is en hy God se doel met sy lewe mis?
Indien hy nog nie van harte kans sien om met sonde te breek en vir Christus na te volg nie, moet jy ‘n opvolggesprek vir ‘n later stadium reël.
10.2 HOE OM DIE OORGAWEGEBED TE HANTEER
10.2.1 Die werker bid eerste:
|
Dank God vir Sy teenwoordigheid. Dank Hom dat Hy sal verhoor wat die ander persoon nou gaan bid.
|
Die hulpsoekende bid:
|
As hy weerstand bied, byvoorbeeld “ek kan nie hardop bid nie” sê dat hy net een sin vir die Here moet sê, “vergewe” en “kom in” (neem beheer). As hy nie kans sien vir bid nie, bid vir hom voor. In so ‘n gebed kan jy bv. bid en vir God dank vir Sy teenwoordigheid, dat Hy gesterf het, dat Hy belowe het dat as ek oopmaak Hy in sal kom, dat ek nou my hart oopmaak, kom in, reinig, neem beheer, dankie dat U dit nou gedoen het. Amen.
|
Die werker bid weer
|
“Dankie dat U doen wat U sê.” Staan op die waarheid van God se Woord. Dank God dat jy weet Hy het nou ingekom in die persoon se hart en lewe. Help hom om dit te aanvaar as die waarheid. Bid dat die Here nou vir hom sekerheid en vrede sal kom gee.
|
As hy dalk weer bid, gee kans dat hy uitpraat teenoor die Here en volg dan weer op met ‘n kort gebed.
|
Na die oorgawegebed, verseker hom van God se beloftes uit die Bybel: Op 3:20; 1 Joh. 1:9, Joh. 10:28 en Joh. 1:12.
|
11. HOE HELP EK IEMAND OM OOP TE MAAK EN UIT TE PRAAT?
Indien jy agterkom dat iemand iets swaar of seer in sy binneste het, moet jy hom eers help om hierdie sweer oop te maak voordat jy vir hom kan help om tot oorgawe te kom.
OM ‘N HULPSOEKENDE TE HELP OM UIT TE PRAAT MOET ONTHOU WORD:
Jy het twee ore en een mond. Moenie praat voordat jy goed geluister het nie. Hy het behoefte om uit te praat – luister daarom goed, anders adviseer jy dalk verkeerd. Hy sal nie sommer dadelik sê wat die eintlike probleem is nie, totdat hy jou begin vertrou. Moenie sy vrymoedigheid ontneem deur tussenin te praat of te preek terwyl hy oopmaak en uitpraat nie. Luister goed anders bemoedig jy dalk te gou. Laat hom toe om die donker dinge ‘n slag uit te praat. Vra hom hoekom hy so voel, of so sê, sodat jy presies weet wat hy eintlik wil sê. Anders praat julle miskien verby mekaar. Jy kan ook vra: “Hoe bedoel jy?” Hou aan om uit te vra totdat jy ‘n duidelike prentjie van die probleem het.
Wees fyn oplettend. Lees sy emosies, bv. ‘n sug, trane, stilte, huiwerigheid, ongemaklikheid of rondskuiwery op ‘n bepaalde moment. Soms verraai mense dinge deur hul liggaamstaal wat hul andersins nie kan sê nie. Probeerom die gevoelagtersywoordetepeil.
Kontroleer voortdurend of jy by is. Sê wat jy gehoor het, bv. “Met ander woorde jy bedoel…” Gee syemosiesvirhom in woordeterug, bv. “jy is bang” of “jy voel verworpe,” ensovoorts. Probeer sy gevoel opsom en sê in woorde wat hy nie wil sê nie of dalk te bang is om in woorde te sê, bv. “jy dink jy is ‘n mislukking, jy is sleg, daar is geen vergifnis, jy wil jou lewe beëindig, God is teen jou,” ens.
Pouses en stiltes sê ook iets. Moenie stiltes verbreek nie. Dit kan dikwels ‘n oorgang na ‘n dieper probleem wees. Moenie ‘n stilte wegpraat nie.
Luister na onvoltooide sinne want dit sê iets. Wees opmerksaam. Vra uit bv. “behalwe wat…” Wys hom daarop dat die Here hier is en hom wil help en moedig hom aan om jou te vertrou. Verseker hom dat jy nie sal oorvertel wat hy sê nie.
Luister met begrip. Wys jy is by deur hmm’s, mm’s en kopknikke. Konsentreer op wat gesê word en nie op wat jy wil antwoord nie.
Noteer die belangrikste punte – as jy nie papier het nie, dan in jou gedagtes, bv. sonde, minderwaardigheid, verwerping, onvergewensgesindheid, twyfel, ens. Kom later weer terug na hierdie punte en praat dit volledig deur.
Skakel op die regte stadium oor van luister na praat. Vertrou op die leiding van die Heilige Gees. Probeerteksewat van toepassing is aanhaal.
12. VERDUIDELIKING VAN DIE EVANGELIE IN KORT
Wat sou jy vir ‘n sterwende sê as hy gered wil word maar net 3 minute het om te leef?
Opdrag:
Gebruik die volgende skema van tekse wat jy uit jou kop moet ken of skryf elke keer die volgende teksverwysing langs die vorige teks.
Joh. 3:16
|
–
|
God het jou lief en wil in jou woon.
|
Jes. 59:1,2
|
–
|
Sonde bring skeiding tussen God en die mens. (Laat hom uitpraat en spesifiek wees oor sy sonde).
|
Jes. 53:5,6
|
–
|
Jesus kan en wil die sondeskeiding wegneem. (VerduidelikSykruisdood).
|
Op 3:19,20
|
–
|
Wat moet ek doen? Glo = aanneem (Joh. 1:12)
Dus: Bid en vra die Here Jesus om in te kom, skoon te maak en die beheer oor te neem.
|
13. SAMEVATTING VAN DIE VERLOOP VAN ‘N GEESTELIKE GESPREK
AANKNOPINGSPUNT
Leer mekaar ken. Liefde wat vriendelik, begrypend en belangstellend is bou die vertrouensverhouding. Beweeg na sy persoonlike geestelike lewe deur aan te knoop by iets gesê, te sien of wat gebeur het. Gebruik die volgende as ‘n oorgangsfrase: “Daar is baie dinge waaroor ‘n mens kan gesels of vrae kan hê, maar miskien is die belangrikste waaroor ‘n mens graag duidelikheid wil hê, oor jou lewe hierna.” “’n Mens weet dat jy nie vir altyd hier op aarde sal wees nie en elke mens dink aan die dood en wat van ‘n mens sal word in die ewigheid.”
Gee jou getuienis oor hoe jy gesoek het tot jy gevind het en hoe jy vrede, duidelikheid en sekerheid gekry het. (Vroeër, toe, nou, vraag?)
DIAGNOSE
Voor jy enige medisyne kan uitdeel, moet jy eers presies vasstel wat die kwaal is. Stel daarom vrae en luister fyn. Byvoorbeeld “watter spesifieke behoefte is op jou hart?” “Waarvoor kan ek spesifiek vir jou bid?” Die kernvraag waarby jy moet uitkom is: “As jy vandag sou sterwe, is jy 100 % seker dat jy hemel toe sal gaan?”
ONTLEDING VAN SY ANTWOORD
“Ja ek is seker.” Vra dan: Hoekom sê jy so? Op grond waarvan sê jy dit? (Hy behoort nou te getuig van sy bekering en verlossing).
“Nee ek sal nie hemel toe gaan nie.” Vra dan hoekom hy so sê. Laat hom praat oor sy sonde en oor die hindernisse in sy geestelike lewe. Verduidelik die Evangelie.
Hy is nie seker nie en twyfel. (Ek dink, hoop, glo so). Met ander woorde hy het geen vaste getuienis van sy oorgawe aan Christus nie. Probeer die oorsaak van sy twyfel bepaal. Help hom om dubbel seker te maak en opnuut die saak met God uit te maak na jy die Evangelie en weg van saligheid verduidelik het.
WIL HY WERKLIK VERANDER?
Is hy oortuig van sy sonde en verlorenheid? (Rom 3:23, Gal 3:10, Rom 6:23, Joh. 3:36). Laat hom praat oor sy sonde. Gee hom kans om dit uit te praat en te bely. Vra dan of daar iets is wat hy soms wonder of God dit regtig sal vergewe.
VERDUIDELIK DIE WEG VAN VERLOSSING
Gebruik die skema soos saamgevat in punt 12 (Joh. 3:16, Jes. 59:1-2, Jes. 53:5-6, Joh. 1:12, Op 3:20). Gebruik die voorbeeld van ‘n boek wat die lig van my hand af wegweer. (Jes. 59:1,2). Eers as die boek (sonde) weggeneem is, kan die lig helder op my hand skyn. Andersins kan die gespreksboekie “Is jy seker?” gebruik word.
OORGAWE GEBED
Is hy bereid om alles ter wille van Christus prys te gee? Het hy die koste bereken? Is hy bereid om te breek met sonde en restitusie te gaan doen? Hy moet kom tot volle oorgawe aan Christus sodat Hy kan beheer oorneem en met hom maak, hom verander en gebruik net soos Hy wil.
Verduidelik die gebedsprosedure. Bid liefs hardop. Eers jy, dan hy en dan weer jy. Hy moet reageer op God se roepstem in ‘n kort gebed waarin hy spesifiek bid om reiniging en nuwe beheer. Hy moet oorgee en Jesus innooi as Verlosser en Here.
VERSEKERINGE (BELOFTES)
As hy nou weet dat hy vir Christus in sy lewe ingenooi het, moet hy die volgende beloftes vir homself toe-eien:
13.6.1 Christus staan dus nie meer buite nie (Op 3:20). Ignoreer jou gevoel en weet dat Hy nou ingekom HET.
Jy is nou ‘n kind van die hemelse Vader (Joh. 1:12).
13.6.3 Jy HET nou die Ewige Lewe (1 Joh. 5:12).
13.6.4 Jy is nie meer wat jy was nie, maar is nou ‘n nuwe skepsel (2 Kor. 5:17). Leer hom om nou oor homself te dink soos God oor hom dink.
Jou sondes IS vergewe (1 Joh. 1:9, Hand 10:43).
Die Heilige Gees woon nou in jou (1 Kor. 6:19).
Opdrag:
Hierdie tekse oor die beloftes moet deur die geestelike werker aan hom gegee word om in die Bybel hardop te lees.
WENKE
Om geestelik te groei is die volgende van belang:
Leef uit geloof en nie uit die gevoel nie (Ef. 6:16).
Vertel vir ander wat met jou gebeur het (Luk 8:39, Matt 10:32).
Bidgetrou (Jak 5:16).
Lees en bestudeer jou Bybel (1 Pet 2:2).
Breek met verkeerde vriende (Hand 2:44, Jak 4:4).
Skakel in by die gemeenskap met ander gelowiges (Heb 10:25).
Gehoorsaam God dadelik in alles (Joh. 14:15, 21).
14. HANTERING VAN SPESIFIEKE GEESTELIKE PROBLEME
HOE HELP JY IEMAND WAT GEEN SONDEBESEF HET NIE?
So iemand het gewoonlik ‘n verkeerde begrip van wat die Bybel oor sonde en verlossing uit genade sê. Hy dink omdat hy nie “groot sondes” doen nie en nie drink, vloek of seksueel oortree nie, is hy aanvaarbaar vir God.
Neem 1 Joh. 1:8 en lees dit saam met hom deur. Volgens hierdie teks sal hy ontdek dat God se opinie verskil met sy eie opinie. Volgens God se opinie verkeer hy onder ‘n misverstand as hy reken dat hy nie sonde het nie. Neem op dieselfde wyse Rom 3:23 en verduidelik aan hom dat God sê almal het gesondig.
Help hom om in te sien dat die Bybel leer dat ons in sonde gebore word (Ps 51:7) en dat ons ons lewe op die breë pad begin.
‘n Ander moontlikheid is dat jy vir hom vra of hy nog nooit bewus geraak het van enige sonde in sy lewe nie? As hy nie aan iets kan dink nie, kan jy vir hom vra of hy al sy humeur verloor het? Vra hom of hy dalk al ‘n leuen vertel het, of hy dalk iemand gekritiseer het en lelike dinge gedink of gesê het van enige iemand en of hy nog nooit ‘n verkeerde woord gebruik het nie. As jy al iets gesteel het, is jy ’n dief en geen dief kan die hemel ingaan nie. As hy sou toegee moet jy hom daarop wys dat hy selfs met een enkele sonde nie die hemele sal binnegaan nie (Gal 3:10 en Jak 2:10). Die Bybel leer in elk geval dat as hy sê dat hy nie sonde het nie, dan het hy ‘n leuen vertel. Toets hom ook vir trots oor sy goeie lewe.
Hierby kan ‘n mens vir hom ook daarop wys dat selfs ‘n verkeerde gedagte is sonde in die oë van die Here. By God is die gedagte reeds gelyk aan die daad (Matt 5:28, 1 Joh. 3:15 en Matt 5:22). Hieruit blyk ook duidelik dat God nie onderskei tussen groot en klein sondes nie.
As hy nog steeds oortuig is dat hy eintlik nie ‘n sondaar is nie, neem vir hom na Jak 4:17 waar verduidelik word dat sonde ook daarin bestaan dat ons dinge versuim en nalaat om te doen. Wys vir hom dan op Matt 22:37 wat sê dat die grootste gebod is dat ons die Here moet liefhê met ons hele lewe. Vra hom dan spesifiek uit na die hoeveelheid geld wat hy vir die werk van die Here gee, die hoeveelheid tyd wat hy aan God spandeer, watter teenkanting hy al ter wille van Christus verduur het en watter opofferings hy al ter wille van sy geloof gedoen het. Vra vir hom ook uit op watter maniere hy aktief betrokke is in die diens van die Here. As hy sê dat hy die Here werklik bo alles en met alles lief het, sal hy dan in staat kan wees om dit te staaf met praktiese bewyse uit sy elke dag se lewe.
Die Bybelse definisie van sonde is “om jou doel te mis” en ‘n mens kan jou doel mis deur of sondige dinge te doen of deur net niks te doen nie. God se doel vir my is om Hom te eer en te verheerlik en die vraag is nou of hy dit doen en hoe hy dit doen.
HOE HANTEER JY IEMAND WAT Sê DAT HY NIE IN GOD GLO NIE?
Jy moet weet dat feitlik alle mense in hulle onderbewuste weet dat daar wel ‘n God is en dat Hy bestaan. Die rede waarom hulle Hom ontken of wil ontken of wil wegredeneer, is omdat hulle nie kans sien om hulle eie lewe te verander en aan God gehoorsaam te word nie. As hulle moet erken dat God bestaan, beteken dit dat hulle verkeerd is en hulle lewe sal moet verander en voor Hom sal moet buig. Daarom is dit baie keer ’n geval van iemand wat homself en sy eie ek en eie wil net wil beskerm. Dikwels is die sogenaamde ateïs eintlik niks ander as iemand wat maar net probeer om van jou ontslae te raak en vir jou van hom weg te kry deur te sê dat hy nie glo in God nie. Hy wil steeds self god wees en leef soos hy wil en het dus nie plek vir ’n ander God nie.
As hy sê dat hy net kan glo wat hy sien dat hy God eers wil sien, wys vir hom egter daarop dat hy tog aan kieme glo wat hy nie kan sien nie. Daarom borsel hy tande en laat hy hom immuniseer. ‘n Mens bestry tog ook nie onsigbare dinge as jy nie eintlik in jou hart glo dat hulle wel bestaan nie. Die rede waarom hy miskien teen God uitvaar is juis omdat hy weet dat God wel bestaan. ‘n Mens sal nie vlieëgif spuit as jy nie glo dat daar wel vlieë is nie. As ek nie TV of radiogolwe opvang nie, beteken dit nie dat daar nie sulke golwe om my bestaan nie. My radio of televisie is net nie aangeskakel of nie op die regte frekwensie ingeskakel nie.
Wys vir hom dat dit eintlik ‘n baie gevaarlike argument is waarop hy sy hele lewe wil bou deur op die volgende wyse met logika met hom te redeneer: “Kom ons veronderstel, ter wille van die argument, dat daar nie ‘n God, ‘n hemel of ‘n hel is nie. Ek glo daarin en jy nie. Ons albei kom te sterwe en ons hou op om te bestaan omdat daar geen lewe na die dood sal wees nie, soos jy sê. Wat het ek verloor? Antwoord – natuurlik niks nie. En wat het jy verloor? Ook niks nie. Maar veronderstel ons vind na die dood uit dat ons tog wel voortlewe, dat daar wel ‘n God, ‘n hemel en ‘n hel is. Wat het ek verloor? Antwoord – niks nie. Ek het alles gewen! Wat het jy verloor? Jy het alles verloor. Wys vir hom nou daarop dat hy ‘n baie gevaarlike kans vat en dat hy in elk geval dan liewers veilig moet speel en vir hierdie moontlikheid ‘n assuransie moet uitneem op sy lewe en op “brandgevaar” in die hel.
“The Proof of the pudding lies in the eating.” Vra vir hom of hy al eerlik gesoek het na God? Vra vir hom of hy al die Bybel dwarsdeur gelees het met die gebed in sy hart dat die Here Hom aan hom sal openbaar? Hoe kan hy dan iets verwerp wat hy nog nie eers ondersoek het nie. Wys vir hom dan ook wat die Here van hom sê in Ps 14:1.
‘n Mens kan vir hom daarop wys dat alles wat ontstaan het, êrens deur iets gemaak moes wees. Daar moet dus agter die skepping ‘n Skepper wees. ‘n Mens kan ook vir hom wys op die doelmatigheid, fyn beplanning, die orde en wetmatigheid wat daar in die skepping is. Ons leef op ’n planeet wat nommerpas en presies op die regte plek is: presies ver genoeg van die son af. Was ons nader het ons verskroei, verder, het ons gevries. Ons draai teen net die regte spoed in die rondte: was dit stadiger, het die aarde bedags te warm en snags te koud geword. Was dit vinniger, sou niks die gevolglike orkande oorleef het nie. Danksy die osoonlaag en die feit dat ons son (anders as baie ander sterre mooi egalig brand, het ons net genoeg hitte en net genoeg ultravioletstrale om alge te beheer sonder skade aan ander lewe.
Ons swaartekrag is net sterk genoeg om water en gasse op en om die aarde te hou, maar tog nie so sterk dat ons bewegings ongemaklik moeilik is nie. Ons atmosfeer is uniek in sy samestelling. Was daar minder suurstof, sou ons te moeilik asem gehaal het. Was daar meer, was die brandgevaar te groot. Die see en plantewêreld sorg dat koolsuurgas weer omgesit word na suurstof. Water vries van bo en nie van onder af nie (anders as ander stowwe) sodat waterlewe nie vernietig word nie. En so kan ’n mens voortgaan.
Die evolusieleer skend nie God se skeppingsmag nie. Vir my bevestig evolusie juis die almag en die wonder van God. Hy kan ’n oerknal maak wat geen mens selfs in sy wildste drome kan visualiseer nie.
Tog moet jy nie probeer om vir God te bewys nie. Jou enigste bewys wat jy vir hom kan gee is die getuienis van wat in jou eie lewe gebeur het. Hierteen kan hy in elke geval niks sê nie. Sê daarom vir hom dat jy weet dat God bestaan, want jy weet Hy leef in jou. Vertel vir hom van gebedsverhoringe en oortuig hom dat Christus vir jou ‘n werklikheid geword het en jou lewe kom verander het. Hierteen kan hy niks sê nie. Haal vir hom dan ook aan wat in 1 Kor. 1:18 staan: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.”
Vertel met nederigheid, opregtheid en entoesiasme wat God vir jou en ook in ander se lewens gedoen het. Vertel hoe Hy oplossings en antwoorde gegee het, behoeftes vervul het, in krisisse jou versterk en vertroos het. Vertel hoe hy nuwe betekenis en doel in jou lewe gebring het. Help hom om die groot dade van die lewende God in jou raak te sien.
Daar is baie bewyse dat Jesus histories wel bestaan het (argeologie, ou geskrifte, ens.) en Joh. 14:9 sê dat wie vir Jesus gesien het, het die Vader gesien.
Onthou egter dat redding nie deur geleerdheid geskied, maar deur geloof. ‘n Professor sowel as ‘n kind kan ‘n gelowige word. Ons moet van ‘n menslike na ‘n geestelike dimensie beweeg en dit is slegs moontlik deur die Heilige Gees en nie deur ‘n argument nie.
HOE HANTEER JY IEMAND WAT NIE GLO IN DIE BYBEL NIE?
Wys ook vir hom daarop dat hy nie iets kan verwerp wat hy nog nie deeglik ondersoek het nie. Vra daarom eers vir hom waaroor gaan die Bybel, wat is die belangrikste bevele van die Bybel en wat is die kernboodskap daarvan. As hy nie weet nie, kan jy in elk geval dan daarvandaan verder met hom praat oor die kernboodskap en dit aan hom verduidelik.
Jy kan vir hom daarop wys dat die Bybel steeds, ten spyte van al die jare se vervolging nog nie tot niet geraak het nie, maar steeds die boek is wat die meeste in aanvraag is en wat mense se lewens die meeste beïnvloed.
Jy kan ook vir hom daarop wys dat argeologiese opgrawings net bewys het dat al die feite in die Bybel waar is. Die Rosettasteen bevestig Abram se bestaan, Job se verhaal en Josef as onderkoning van Egipte, word ook buite Bybels bevestig. Jy kan ook vir hom daarop wys dat die tientalle profesieë na baie honderde jare presies so uitgekom het soos wat voorspel was. Jou enigste ware bewys bly egter dat jy weet die Woord van die Here is waarlik God se Woord, omdat dit in jou lewe so gewerk het soos wat dit daar staan. Hoe anders weet ‘n mens of ‘n resepteboek waarlik betroubaar is, as dat jy die resepte probeer het en gesien het of dit werk. Jy kan die getuienis vir hom gee dat jy jou hart vir Christus oopgemaak het en dat dit so gebeur het soos wat die Bybel sê in Op 3:20.
Hy moet ook verstaan dat hy met sy sondige en natuurlike verstand nie oor God en Sy dinge kan dink nie. ‘n Mens se verstand is soos ‘n rekenaar wat deur die sondeval beskadig is en in elk geval nie in staat is om data oor God te kan verwerk nie. Daarom sal hy eers die dinge van die Bybel begin verstaan as die Gees van God beheer geneem het van sy gedagtes en sy lewe. Eers as die Skrywer in sy hart ingekom het, sal die Skrywer aan hom die waarhede kan kom verduidelik. “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word” (1 Kor. 2:14).
Nie-Christen skrywers bevestig byvoorbeeld die feite oor Christus net soos ons dit vind in die Bybel (Josefus in 90 nC en Thallus in 52 nC). Oor ‘n tydperk van 1 600 jaar skryf 40 skrywers in verskillende tye en almal se boodskap is dieselfde en niks is teenstrydig oor die verlossingsweg nie. Daar is oor hierdie tydperk 300 profesieë oor Christus wat almal tot in die fynste besonderhede vervul is (vgl. Jes. 53).
Die oorsprong en ontstaan van die Bybel word in 2 Tim 3:16 verklaar en sê dat dit die openbaring van God is.
HOE HANTEER JY IEMAND WAT Sê GOD HET HOM TELEURGESTEL?
So iemand voel dat God onregverdig is en nie ‘n God van liefde is nie.
So ‘n persoon is dikwels in opstand teen God omdat dinge gebeur het wat hy nie kan verstaan of reg verklaar nie. Miskien is hy onregverdig behandel, was daar dood of siekte of een of ander groot teleurstelling in sy lewe. As gevolg hiervan het hy in opstand gekom teen God en miskien in sy hart ‘n haat teen God ontwikkel en teenoor mense.
Die eerste wat jy moet verstaan is dat al die verkeerde en lelike en onregverdige dinge in die lewe nie God se skuld is nie. Elke mens het ‘n vrye wil en is nie ‘n robot nie, daarom kan ons kies en met ons lewe in ’n sekere sin maak net soos wat ons wil, nes Adam en Eva. Daarom maak mense net soos hulle wil en sodra hulle hul vasloop, gee hulle vir God al die skuld daarvoor. Maak daarom seker of hierdie persoon se lewe volkome onder beheer van God is. Laathy die fout ‘n slag by homselfsoek.
Die tweede wat jy moet verstaan, is dat God se weë hoër is as ons weë en sy gedagtes is hoër as ons s’n. God se somme verskil met ons s’n. Wat vir ons baie keer ‘n wins is, is in Sy oë ‘n verlies en wat baie keer vir ons skade en hartseer is, is wins in die hemele. As iemand deur swaar of beproewing nader aan Christus kom, is dit eintlik in die ewigheid wins. Vir ons as mense lyk dit sinneloos en wreed dat God Sy Seun op so ‘n wyse aan die kruis kon laat sterwe. Ons, na die tyd, begryp nou egter dat dit eintlik vir ons die Ewige Lewe moontlik gemaak het. Ons sien hier op aarde net die deurmekaar kant van die tapisserie. Eendag in die hemel sal ons die anderkant sien en verstaan waarom dinge gebeur het.
Ons moenie toelaat dat die duiwel ons beproewing gebruik om ons geestelike lewe af te breek nie. As ons die beproewing soos ‘n hamer in God se hand gee, dan breek Hy nie af nie, maar maak Hy heel en bou Hy ons geestelik daarmee op. So sal ons dan ervaar dat Rom 8:28 waar is, naamlik dat alles vir ons geestelike lewe op die ou end ten goede meewerk. Vir God gaan dit met ander woorde nie in die eerste plek oor sigbare dinge nie, maar oor onsigbare dinge. “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig “ (2 Kor. 4:17-18). “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk” (2 Kor. 12:8-10).
Help hierdie persoon om te kies teen sy eie-EK en om voor God te buig te midde van die teleurstelling en om God te dien al verstaan hy nie sy beproewing nie. Ons moet God liefhê ten spyte van.
HOE HELP JY IEMAND WAT ONGERED IS, MAAR GLO DAT HY GERED IS, OMDAT –
HY GOED LEWE?
Wys vir hom dat al die goeie dinge wat ons kan doen, steeds nog nie die sonde uit ons hart kan wegneem nie. Al die goeie werke van die Fariseër kon hom nie red nie, die genade van God en die eerlike sondebelydenis van die tollenaar wel (Luk 18:9-14). Jesus alleen kan ons red en nie ons goeie werke nie, en Hy doen dit sodat ons dan daarna deur Sy Gees goeie werke kan doen uit dankbaarheid. “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:8-10). Christus Jesus alleen kan ons verlos want Hy het vir ons sonde aan die kruis gesterwe (Joh. 14:6). Wys vir hom verder daarop dat al die goeie dinge wat ons in elk geval doen (in die oë van die Here ) met vuil hande gedoen word (Jes. 64:6). Help hom dan verder soos vir iemand wat sonder ‘n sondebesef is (punt 14.1).
GOD SY GEBEDE VERHOOR HET IN DIE VERLEDE?
Vravir so iemand of God altydálsygebedeverhoor. Wys vir hom ook daarop dat dit nie ‘n vanselfsprekende bewys is dat God in sy hart is as God vir hom goed is en liefde onverdiend aan hom betoon nie. Jesus het byvoorbeeld Legio se duiwels se gebede ook verhoor, asook vir Saul toe hy gebid het om sy pa se donkies te kry. Ons weet egter dat Saul sonder God gesterf het toe hy sy hand aan sy eie lewe geslaan het.
HOE HELP JY IEMAND WAT GLO DAT HY TE GROOT SONDAAR IS OM NOG GERED TE KAN WORD?
Wys vir hom daarop dat daar by God eintlik nie so iets soos ‘n groot en klein sonde is nie (Matt 5:28, 1 Joh. 3:15). Haal vir hom voorbeelde aan van sondaars soos Dawid wat egbreuk en moord gepleeg het, maar nogtans vergewe is (Ps 32:5). Noem vir hom ook die voorbeeld van die sondaar aan die kruis wat deur Jesus gered is in daardie sterwensoomblikke op Golgota. Haal ook Paulus, die moordenaar, se lewe aan en wat hy sê in 1 Tim 1:15 – “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” Wys ook vir hom op die waarhede van Jes. 1:18 en 1 Joh. 1:9 wat volkome vergifnis belowe en as enigste voorwaarde die belydenis van sonde en ‘n breuk daarmee stel.
HOE HELP JY IEMAND WAT GLO DAT HY GAAN TE VEEL VERLOOR AS HY ‘N CHRISTEN SOU WORD?
Vra vir hom uit oor wat hy verstaan onder “christenwees,” want miskien dink hy dit bestaan net uit swaarkry, verliese en ontberings. Gee dan jou getuienis vir hom, waarin jy vir hom wys dat God waarlik ‘n God van Liefde is wat vir ons net die allerbeste in ons lewe wil gee. As Hy iets van ons wil wegneem, is dit omdat dit vir ons skadelik is en Hy iets beter in die plek daarvan vir ons het. Wys ook vir hom dat as hy dit sou opweeg, hy moet besef dat dit vir hom alles slegs van tydelike waarde is wat hy hier op aarde kan wen (Mark 8:36). Bring vir hom daarby dat hy sal moet besef dat hy ‘n keuse sal moet maak want hy kan nie vir God en Mammon tegelyk dien nie (Matt 6:24). Hy kan ook nie ‘n vriend van God en die wêreld gelyktydig wees nie (Jak 4:4).
Miskien is die belangrikste om vir hom te vra wat daar spesifiek in sy lewe is wat hy bang is om op te gee, of vrees om dit te verloor, byvoorbeeld onvergewensgesindheid, ‘n oneerlike geldtransaksie, ‘n verkeerde verhouding, wêreldse plesier of ‘n verslawende gewoonte. Praat dit uit en help hom om ‘n ewigheidsperspektief hierop te kry en vir Jesus weer eerste te stel.
HOE HELP JY IEMAND WAT VOL VERSKONINGS IS EN WAT AANHOU UITSTEL OM MET GOD REG TE MAAK?
Wys vir hom daarop dat hy eintlik besig is om elke keer wat hy uitstel vir God “nee” te sê. Ons moenie dink dat ons vir God aan ‘n lyntjie kan hou deur eintlik vir Hom te sê: “nie nou nie, kom asseblief ‘n bietjie later, as dit my beter sal pas.” Waarsku hom dat daar ‘n dag kan kom dat hy geen behae meer in die dinge van God gaan hê nie. “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks meer aan nie” (Prediker 12:1). Wys ook vir hom daarop dat hy nooit seker kan wees of hy nog ‘n kans vorentoe gaan hê nie. Ons weet nie wanneer ons sterf of wanneer Christus weer kom op die wolke nie. Van uitstel kom afstel (Jak 4:13-17). As God met ons praat, verwag Hy dat ons vir Hom dadelik sal antwoord. Swyg is ook ‘n manier van nee sê. Uitstel ook. God se tyd is nou(2 Kor. 6:2) en vandag (Heb 3:7, 8).
GOD IS TE GOED OM TE VERDOEM
Alhoewel God ‘n God van Liefde is, is Hy ook regverdig om die sonde en onreg te straf. Alhoewel Hy die sondaar liefhet en nie wil hê dat hy verlore moet gaan nie, haat God die sonde (Rom 6:23, Gal 3:10, Joh. 3:18, 36).
God het Sy oordeel oor sonde in water uitgegiet op die goddelose mense in Noag se tyd en in vuur en swael oor Sodom en Gomorra (Gen 6 en 19).
Die Bybel praat in duidelike terme oor die realiteit van die hel (Jes. 66:24, Mark 9:43-44).
Wys vir hom op Rom 2:4-5 waarin dit duidelik is dat God goed is vir hom om hom tot bekering te roep.
ELKEEN WORD SALIG DEUR SY EIE GODSDIENS
Hiervolgens is daar nie ‘n onderskeiding tussen lig en duisternis nie, want alle gelowe is reg en is soos verskillende paaie wat teen die berg uitgaan na dieselfde bestemming toe. Die Bybel leer egter dat daar twee paaie is, die breë weg waarop die meeste mense is, en dan die smal weg na die hemel toe (Matt 7:13-14). Jesus sê duidelik dat Hy hierdie smal pad is en die enigste wat jou in die hemel kan bring “Jesus het vir hom gesê; Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).
Al die godsdienste probeer op verskillende maniere om die mens uit die put van sonde te kry. Almal kom daarop neer dat jy jouself moet verbeter en ophef en as’t ware aan jou hare uit die put optrek en uitlig. Slegs Jesus het vir die mense se sonde betaal by God en daarom kan Hy alleen vir ons verlos en met Sy deurboorde hande vir ons uit hierdie put trek (Hand 4:12, 1 Joh. 5:12).
Daar is duisende Hindoes en Moslems wat tot bekering gekom het en Christene geword het, maar nog nooit het ’n ware wedergebore Christen na enige ander nie-christelike geloof oorgegaan nie. Ons aanbid ‘n lewende God. Jesus het belowe dat Hy uit die dood sou opstaan. Hy het ook en daarom is Sy graf leeg. Mohammed en Budda se grafte kan besoek word – hulle as en beendere is steeds daar.
SLOT
Maak seker dat jy die tekse in hierdie boekie in jou Bybel gemerk het en sover moontlik gememoriseer het. Bly gehoorsaam om dit wat jy in hierdie kursus geleer het, toe te pas, te doen en aan ander oor te dra. Moenie as die kursus verby is, ophou om te getuig nie, bly steeds bereid. Moet ook nie hierdie kursusboekie wegbêre nie, maar sorg dat jy al meer bekwaam word. Gaan dan, reik uit na mense en wees ‘n getuie vir Christus.
Related